Die paradysblom / Caesalpinia gilliesii

 

Die paradysblom is ‘n kategorie 1b-indringer plant. Dit beteken dat ons dit van ons eiendom af moet verwyder, hoewel dit die pragtigste blomme dra.

Paradysblom is n struik in die Fabaceae familie en die genus is Erythrostemon en die rang Fabales. Die paradysblom kom oorspronklik van die tropiese gedeeltes van Amerika hoofsaaklik van Argentinië en Uruguay. Dit kom natuurlik in Texas voor en dit staan bekend as die “Paradise bush, desert bird of paradise, yellow bird paradise” en “barba de chivo”.

Dit is ‘n bladwisselende struik en groei tot 5 meter hoog, afhangend van die reënval. Die struik groei baie dig met welige heldergroen blare wat soos varingblare vertoon. Fyn blaartjies aan kort stingeltjies aan die takke. Dit word tot 15 cm lank. Elke takkie dra 5 tot 10 blaartakkies met die fyn blaartjies.

In die somer dra hierdie struik spoggerige geel blomme. Elke blom met vyf geel blomblare en 10 lang opvallende rooi meeldrade wat voor uithang. Dit kom in trossies aan ‘n takkie en die blommetjies is ook baie dig opmekaar. Na die blomtyd vorm daar peule met kort rooi klierhare.

Hierdie peule skiet dan oop wanneer hulle ryp is en so versprei die plante vinnig. Dit verdring ander plante vinnig. Die sade en groen saadpeule is giftig, dit veroorsaak erge naarheid en ook ander maagpyne. Die plante is veral ‘n probleem in die Oos-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap.

Paradysblom kan droogte weerstaan maar groei die beste in tropiese klam klimaat. Die ou mense van die Amazone reënwoude het hierdie plante tog wel gebruik as medikasie vir koors, hoesbuie en ook om wonde mee te behandel. Dit is volgens bronne net die sade wat giftig is.

Tuiniers, al is van die indringerplante so mooi moet ons hulle liewer uitroei om te voorkom dat dit versprei en ons tuine heeltemal oorheers. Hoe groter hulle word hoe meer versprei hulle en hoe moeiliker raak dit om hulle uit te roei. Trek maar liewer die klein plantjies uit en vernietig dit heeltemal.

Geniet u tuin tot volgende keer.