Australiese adjunk premier bedank

’n Liefdesverhouding met ’n jonger dame en beskuldigings dat hy betrokke was by ’n ander verhouding het daartoe gelei dat die adjunk eerste minister van Australië bekendgemaak het dat hy uit die amp bedank.

Barnaby Joyce het ook te kenne gegee dat hy as leier van die Nasionale Party bedank maar sal aanbly as lid van die parlement.

Joyce se Nasionale Party is die junior vennoot in die koalisieregering saam met die Liberale Party van premier Malcolm Turnbull.

Die 50-jarige leier van die Nasionale Party ontken die beskuldigings wat teen hom gemaak word, maar het ter wille van die party besluit om plek te maak vir iemand anders om die leiding te neem.

Vroeër is hy daarvan beskuldig dat hy saam met ’n 33-jarige media sekretaresse geslaap het wat nou sy kind verwag.

Die Nasionale Party het intussen aangekondig dat hulle binnekort ’n nuwe partyleier sal kies, en die regering sal gedurende die week ’n nuwe adjunk premier aanwys.

Foto – Barnaby Joyce