Appel kaktus / Peruvian Apple Cactus

Die appel kaktus is sekerlik nie die mooiste kaktus nie, maar die blomme is besonders. Daar is verskei variëteite van hierdie vetplante. Appel kaktusse kom oorspronklik van Suid Amerika en is geharde plante soos net ‘n kaktus kan wees en kom met min water klaar en verkies warm sonskyn en ook ‘n warm klimaat.

Hierdie Peruvian Apple Cactus het dik lopers wat soos takke vanuit die grond spruit en dit het yslike dorings reg langs die stamme op. Hulle kan ook binnenshuis in potte geplant word, maar moet baie sonlig kry. In die natuur groei hulle tot 30 voet lank, maar in die huis sal hulle 1 meter bereik. Dit moet in sterk groot potte geplant word, want die groei dig onder uit die grond. Dit is baie dekoratief by ingangsportale waar daar baie sonlig kom.

Die stamme of takke van hierdie plante is vol riwwe met die trossies dorings teen die kante af. Dit dra wit blomme, maar van die ander variëteite het verskeie ander kleur blomme.  Wanneer die blomknoppe verskyn lyk dit soos appels maar wanneer die blom oopmaak is die blare lank en wit kelke met helder stuifmeel aan die binnekant. Die vrug van hierdie kaktus lyk soos ‘n “dragon fruit” binne, vol pitjies met sagte vlees. Die vrugte kan deur mense geëet word. Die blomme gaan net in die aand oop en verwelk weer die volgende dag.

Appel kaktus is maklik om te plant en groei baie maklik. Daar waar ‘n stukkie stam val, sal dit sommer wortels maak en begin groei. Dit kan ook lank uit die grond wees voordat dit geplant word. Hierdie plante sal in die warm somermaande van meer water hou, maar moet liefs nie te veel water toedien nie, aangesien dit maklik verrot, veral in die winter. Plant in goed dreinerende grond en gee net water wanneer die plant droog is. Gebruik ‘n goeie potgrond indien dit in ‘n pot geplant word. Dit word voortgeplant met steggies. Die blomme lok bye na die tuin vir bestuiwing. ‘n Wenk is om die steggies wat geplant moet word vir ‘n week buite die grond te laat lê alvorens dit in potte geplant word.

Tuiniers, geniet u somertuin ten volle. Tuingroete tot volgende keer.