Word Merkel se probleem groter?

Die opspraakwekkende besoek van die eerste minister van Hongarye as eregas by die vergadering van die Bavaria Christen Sosiale Unie, het die tonge laat los raak in Duitsland.

Die Christen Sosiale Unie (CSU) is die jarelange koalisievennoot in die regering van Bondskanselier Angela Merkel se Christen Demokratiese Unie, en premier Viktor Orban se teenwoordigheid laat ernstige vrae ontstaan oor die verhouding tussen die twee koalisievennote.

Dit is bekend dat die konserwatiewe CSU van Bavaria by geleentheid oorweeg het om weg te breek van Merkel se regering weens haar “oop deur” benadering met toelating van onwettige immigrante.

Die konserwatiewe CSU  het die afgelope naweek ’n party konferensie gehad in die suide van Duitsland, en het premier Viktor Orban ontvang om saam met die partyleiers op die verhoog te sit, en het ook vrye tyd geniet om ’n toespraak te maak.

Hy het onder meer gesê die volke van Europa wil nie onder die vrees van terroriste aanvalle leef nie, en daarom moet skerp aandag gegee word aan die toelating van onwettige immigrante.

Hy het gesê dit is sy hoop dat 2018 die jaar sal wees waarin die vrede in Europese lande herstel sal word en ontslae geraak sal word van terroriste aanvalle.

Die sterk konserwatiewe benadering in die uitvoering van Hongarye se benadering oor immigrante, het premier Orban ongewild gemaak in die geledere van die Europese Unie.

Verskeie politici sien Viktor Orban se teenwoordigheid in die CSU konferensie as ’n direkte klap na Angela Merkel, wat ook haar beoogde samesprekings met die linkse Sosialiste, verder benadeel.

Foto – Premier Viktor Orban