Wêreld Nuusflitse – 26 Januarie

Duitsland

’n Lid van die nasionalistiese politieke party, die Alternatief vir Duitsland, wat erg gekant is teen die Moslems, het bekend gemaak dat hy hom “bekeer” het tot die Moslem geloof, maar ’n party woordvoerder het gesê hulle vind geen probleem daarmee nie.

 

VSA

Die Amerikaanse Senaat het met 85 stemme teen 15 goedgekeur dat Jerome Powell aangestel word as voorsitter van die Federale Reserwebank.

 

Brasilië

’n Nuwe uitbraak van geelkoors het reeds die lewens van meer as 70 mense geëis, en talle parke is reeds gesluit en word met gifstof bespuit in ’n poging om verdere verspreiding te voorkom.

 

Brittanje

Die jongste opname toon dat sowat die helfte van die kinders in Londen en Berrington leef in armoede, en die toestand het reeds krisis afmetinge aangeneem aangesien dit blyk dat hierdie arm kinders vir die res van hulle lewens in armoede sal bly.

 

Sjina

Wetenskaplikes het twee langstert apies gekloon en dieselfde proses gebruik as wat etlike jare gelede gebruik is om Dolly, die skaap, te kloon.