VN bespreek opstand in Iran

Die verteenwoordiger van Iran by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het in die vergadering gesê die opstand in sy land word aangevuur deur vyandelike elemente in die buiteland.

Die Veiligheidsraad het ’n spoedvergadering gehou op aandrang van die Verenigde State, maar Iran het die vergadering verseker dat “harde bewyse” toon dat die dryfkrag agter die betogings uit die buiteland afkomstig is.

Rusland het ’n troefkaart gehou en uiteindelik die verdeeldheid in die vergadering benut deur te vra dat die Veiligheidsraad die aangeleentheid in die hande van Iran se regering moet laat om hulle huishoudelike sake self te hanteer.

Die Veiligheidsraad se spoedbyeenkoms is agter geslote deure gehou, maar die VSA kon daarin slaag om ’n tweede, maar ope fase te reël te midde van die teenkanting van Rusland en Frankryk se teenkanting.

Die VSA ambassadeur in die Verenigde Nasies, Nikki Haley, het gesê die opstande in Iran bevat die elemente wat kan oorspoel na ander lande soos Sirië, en daarom moet die VN betrokke bly.

Haley sê die vryheid en menseregte kan nie van vrede en veiligheid geskei word nie, en daarom word Iran nou deur Amerika op terme geplaas en die wêreld gaan met ’n arendsoog dophou wat die regime in Iran doen.

Die opstande het reeds vir die dood van talle burgerlikes gelei, en die hardhandige optrede van die polisie word daarvoor verantwoordelik gehou.