Spanje bied geen genade aan separatiste

Die Hooggeregshof in Spanje toon geen genade aan die afgesette visepresident van Katalonië, Oriol Junqueras, wat tans in aanhouding is in ’n Spaanse tronk nie.

Die afgesette visepresident is reeds meer as twee maande in die tronk na die onafhanklikheidsverklaring van Katalonië nietig gemaak is deur die Spaanse regering van premier Rajoy.

Die hof het beveel dat Oriol Junqueras in die tronk moet bly weens sy betrokkenheid om Katalonië af te skei van Spanje.

Die hof het bevind dat hy in die gevangenis aanbly solank die ondersoek voortgaan oor wat sy rol was tydens die referendum oor afskeiding en sy optrede daarna tydens die onafhanklikheidsverklaring wat deur die Kataloniese president in die parlement gelewer is.

Intussen het die president, Carles Puigdemont, uitgewyk na Vlaandere waar hy met ope arms ontvang is, saam met vier van sy afgesette ministers.

Die beslissing van die hof dui daarop dat die afgesette president, Carles Puigdemont, se versugting om terug te keer na Katalonië, sal beteken dat hy onverwyld in hegtenis geneem sal word.

Intussen bou die spanning op in Katalonië, en die separatiste wat die verkiesing weer gewen het, beplan verdere optogte om vrylating van hulle leiers te eis.

Foto – Oriol Junqueras