Sikloon en erge koue tref Amerika

Die jaar 2018 het nie goed begin vir die inwoners van die oostelike deel van die Verenigde State nie, want die winterkoue en storms is veel erger as gewoonlik.

Skole en regeringsinstellings moes noodgedwonge sluit weens stormweer en lugverkeer het tot stilstand gekom met swaar sneeu neerslae oor ’n wye gebied.

Snelweë en ander paaie was vir dae gesluit en het die verkeersvloei totaal ontwrig, terwyl temperature gedaal het tot minus 35 grade Celsius.

Die Amerikaanse Nasionale Weerdiens het gewaarsku dat nog swaar sneeu neerslae verwag word van Noord-Carolina tot in Maine.

Gevaarlike rukwinde van tot 120 km per uur is reeds ondervind in die deelstate Florida, Georgië en Virginië waar noodtoestande afgekondig moes word.

Die goewerneur van die deelstaat New York, Andrew Cuomo, het ook ’n noodtoestand afgekondig terwyl stormagtige weer ook in Long Island verwag is.

Die geweldige stormagtige weer is veroorsaak deur ’n skerp daling in die lugdruk, wat die sogenaamde “bom-sikloon” veroorsaak het.

Die stormagtigheid het ook orkane en hernude sneeustorms veroorsaak wat reuse skade aan die infrastruktuur tot gevolg het.

Die voorspellings dui daarop dat die stormweer wat sedert Kersdag woed, nog geruime tyd kan voortduur, terwyl die erge koue nog laer temperature kan meebring.

Kenners wys daarop dat die ongekende koue selfs laer temperature as die bitter koue Alaska tot gevolg het.