Premier van Roemenië bedank

Die eerste minister van Roemenië, Mihai Tudose, is gedwing om sy bedanking in te dien  nadat hy die magstryd teen sy partyleier verloor het.

Die partyleier, Liviu Dragnea, wat beheer uitoefen oor die politieke party wat tans regeer, is egter verbied om as parlementariër diens te doen weens  ‘n strafregtelike klagte teen hom.

Die politieke magstryd in die land se Sosiaal Demokratiese Party het onlangs eers aan die kiesers bekend geword nadat die eerste minister sy minister van binnelandse sake aangesê het om te bedank.

Die minister van binnelandse sake, Carmen Dan, word daarvan beskuldig dat sy leuens verkondig het, maar sy het geweier om te bedank en is deur die party se senior beamptes ondersteun.

Dit het daartoe gelei dat die party die eerste minister gedwing het om die tuig neer te lê, en het die oorgrote meerderheid van die party se besluitnemers hulle geskaar by die minister van binnelandse sake.