Pap op ‘n stokkie

Alweer pap? En dit op stokkies?  O wel, dis darem heeltemal anders en word as voorgereg bedien. Die resep is vir omtrent 36 pap bolletjies.

 

Bestanddele:

750 ml kookwater

5 ml sout

Knippie rissiepoeier

350 ml fyn mieliemeel

250 ml mieliepitte

1 pakkie spek, gebraai in droë pan tot dit ‘n mooi kleur het

150 gr gerasperde cheddar kaas

‘n paar grasuie gesnipper

2 eiers geklits

350 ml geroosterde broodkrummels

Olie vir diepbraai

 

Metode:

Bring die water, sout en rissiepoeier tot kookpunt, voeg die mieliemeel by en roer goed, laat gaar kook vir 20 minute op lae hitte en roer af en toe.

Die pap moet dik, maar nog roerbaar wees.

Roer die mieliepitte, spek, kaas en grasuie by die gaar pap en laat dit afkoel tot dit hanteerbaar is.

Rol ewe groot bolletjies en doop dit in die eier en rol dit dan in die broodkrummels.

Sit die bolletjies vir 30 minute in die yskas sodat die krummellagie goed kan vassit.

Diepbraai die bolletjies tot goudbruin en dreineer op kombuispapier.

Druk peuselstokkies in elkeen en bedien met mosterd of enige sous van u keuse.

Geniet die ete