Opposisie uit Krugersdorp raadvergadering gejaag

Die ANC-speaker van Mogale City het opposisieraadslede beveel om die raadsaal te verlaat nadat  VF Plus-raadslid, Amanda de Lange, die speaker daarop gewys het dat sy besluite wil goedkeur wat nie aan die vereistes van die Munisipale Stelselswet voldoen nie.

Jaco Mulder, VF Plus-provinsiale leier vir Gauteng, sê die ANC-beheerde raad het gepoog om ʼn organogram goed te keur wat ʼn invloed op die raad se begroting sal hê sonder dat die vereiste publieke deelname prosesse gevolg is.

Hierdie organogram vorm ʼn integrale deel van die raad se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en moet deur ʼn volstrekte meerderheid raadslede ondersteun word terwyl die speaker poog om dit met ʼn gewone meerderheid te laat instem.

“Die belastingbetalers van die Mogale City word sedert die Augustus 2016-plaaslike regeringsverkiesing deur die ANC-speaker gyselaar gehou deur ʼn raad wat onregmatige besluite neem en deur ʼn minderheid beheer word.

“Die reglement van orde waarvolgens die raad bestuur word, is nie deur die raad goedgekeur en ook nie geproklameer nie. Die VF Plus het reeds in 2017 ʼn klag hieroor by die openbare beskermer ingedien.

“Die wil van die meerderheid kiesers moet so gou moontlik herstel word deur die veelparty koalisie te herstel, sê Mulder.

Foto: Mnr. Jaco Mulder