Motorrubriek – Porsche Cayenne S Tiptronic

 

Gedurende 2002 het Porsche die sportnutsmark betree toe die eerste Cayenne bekendgestel is. Aanvanklik was daar bedenkinge en bekommernis rondom die stap maar gou het dit geblyk dat dit onnodig was. Soos met alle ander projekte wat Porsche aanpak, was en is dit ‘n reuse sukses. Wêreldwyd is daar ongeveer 770 000 verkoop. Die huidige vorm is agt jaar oud en Porshe het besluit om ‘n nuwe gewysigde weergawe bekend te stel.

Wanneer daar na die nuwe weergawe gekyk word lyk dit op die oog af of daar slegs ‘n paar veranderings aangebring is maar wanneer die maatband nader getrek word dan besef ‘n mens dit is langer, breër en die hoogte het gekrimp. Die hoofligte is verander en die agterligte is meer aanskoulik. Om dit verder te onderskei van die vorige model is daar ‘n rooi streep tussen die agterligte aangebring en dit help verder om dit te onderskei van die kleiner Macan model.

Bokant die agterste deurklap is daar ‘n verstelbare drukvlerk aangebring waarvan die grade elektries verander kan word van 6 tot 28 grade.

Binne in die voertuig is daar ook aansienlike veranderings aangebring. So is daar ‘n 12,3 duim kleur aanraakskerm wat met al sy verskillende funksies diens doen. Tussen die voorste sitplekke is die lug beheer skakelaars aangebring en ‘n Bose klankstelsel sorg vir die vermaak gedeelte wanneer die lang pad aangepak word. Verdere beheerskakelaars is op die stuurwiel aangebring.

Drie verskillende modelle is beskikbaar waarvan die basiese model toegerus is met 3 liter enkel turbo aanjaer, V6 kragbron wat 250 kW en 450 Nm verskaf. Die volgende model is beskikbaar met ‘n 2,9 liter, dubbel turbo aanjaer V6 kragbron wat 324 kW en 550 Nm verskaf en die mees luukse model maak gebruik van 4 liter, dubbel turbo aanjaer V8 kragbron wat 404 kW en 770 Nm aan al vier die wiele verskaf. Trouens al drie die modelle maak gebruik van permanente vier wiel aandrywing. In al die modelle is ‘n 8 spoed outomatiese ratkas gepas waarvan die oorskakeling so glad verloop dat dit bykans nie opgemerk kan word nie. In die geval van die dubbel turbo is die turbo in die V gemonteer wat die doeltreffendheid aansienlik verbeter.

‘n Ander ingeboude hulpmiddel wat ‘n eerste is in die Cayenne is ‘n stuurstelsel vir die agterwiele. Teen lae snelhede draai dit in die teenoorgestelde rigting as die voorwiele maar soos wat die snelheid verhoog word, draai dit in dieselfde rigting as die voorwiele. Dit verbeter die stabiliteit op die pad en is ‘n bydraende faktor tot goeie padgedrag. Ook ‘n eerste keer vir die Cayenne is die agter bande wat breër is as die voorstes.

Deur die speke van die allooi wielnawe kan die knypers van die skyfremme gesien word en dit verseker dat die Cayenne met veiligheid en gemak tot stilstand gebring kan word.

Wanneer daar gekyk word na die werkverrigting kom ‘n mens tot die gevolgtrekking dat hierdie eintlik ‘n vier deur sportmotor is.  Volgens die vervaardiger versnel dit van 0 tot 100km/u in 4,9 sekondes en die topsnelheid is 265 km/u.

Wanneer u dus in die toekoms ‘n sportnutsvoertuig wil aanskaf, kan u gerus die Porsche Cayenne neem vir ‘n toetsrit.