Mej. België ontketen rassespanning

Die pas verkose Angeline Flor Pua (22) as Mejuffrou België het ’n herrie laat losbars op die sosiale media deur ontevredenes wat nou van rassisme beskuldig word.

Sy is die dogter van ’n egpaar uit die Filippyne en word deur menige in België beskou as ’n uitlander wat nie kan aanspraak maak op die titel as Mej. België nie.

Die sosiale media toon dat daar veel meer mense in Europa is wat sterk gekant is teen anderskleurige mense, wat die indruk laat dat die blankes in Suid-Afrika nie naastenby so sterk oor kleurverskille voel nie.

Van die menings wat uitgespreek is, lui dat die vrou nie van Belgiese afkoms is nie, en haar naam is vreemd vir Europa, wat haar beslis nie laat kwalifiseer vir die toekenning nie, word gesê.

Die ander standpunt is dat sy in België gebore is en daarom ’n egte Belg is wat volledig kwalifiseer.

Die beoordelaars beweer dat hulle haar paspoort gekontroleer het soos wat met al die ander deelnemers gedoen is, en hulle is tevrede dat sy wel kwalifiseer om deel te neem, en ook as wenner aangewys mag word.

Een van die meningsvormers sê dit is nou die soveelste keer dat mense as deelnemers en wenners toegelaat word terwyl hulle nie moes kwalifiseer nie, en dit maak België se deelname bedenklik.

Foto – Angeline Flor Pua