Kataloniese separatiste wys regeringshoof aan

Die separatiste partye in Katalonië het ’n ooreenkoms aangegaan met mekaar dat Carles Puigdemont weer die leier van die nuwe regering van die streek sal wees.

Puigdemont woon tans in België om nie deur die Spaanse regering in hegtenis geneem te word nie, en die besluit van die separatiste is direk in stryd met premier Rajoy van Spanje se beleid.

Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, het gesê dit is absurd om te dink die minister-president kan van buite die streek die regering lei.

Rajoy het ook gesê dat Puigdemont in hegtenis geneem sal word die oomblik wat hy sy voete op Spaanse grond sit weens sy aandeel aan verlede jaar se onafhanklikheidsverklaring van Katalonië.

Die verkose parlementariërs van die separatiste het Dinsdag besluit dat hulle Carles Puigdemont as minister-president sal voorstel.

Die separatiste het met die streek se verkiesing wat deur Spanje afgedwing is, hul meerderheid in die parlement vergroot terwyl Spanje gehoop het dat sy lojaliste sou wen om sodoende die krisis te beëindig.

Premier Rajoy het vroeër ook gewaarsku dat diegene wat die verkiesing wen, eers ’n onderneming aan Spanje moet gee dat hulle lojaal sal bly aan die Spaanse gesag, anders sal Artikel 155 van krag bly wat bepaal dat die streek deur Spanje regeer sal word.

Foto – Carles Puigdemont