Kanselier Kurz besoek Frankryk

Kanselier Sebastian Kurz van Oostenryk het ’n amptelike besoek aan Frankryk gebring om samesprekings te voer met die Franse president, Emmanuel Macron.

Die Oostenrykse kanselier wil onder meer sy posisie en die van sy nasionalistiese koalisievennoot, die Vryheidsparty, aan die Franse president uitspel oor hulle benadering tot die Europese Unie.

Die konserwatiewe regering van Oostenryk het reeds tevore sy kommer uitgespreek oor die beleidsrigtings van die EU, en wil ook uitklaring kry oor die EU se negatiewe opmerkings oor Oostenryk se regering.

Dit is die jong 31-jarige kanselier se eerste amptelike besoek aan Frankryk waartydens hy in Parys aan president Macron wil bevestig dat Oostenryk nie gekant is teen die EU nie, maar wel bekommerd is oor seker beleidsrigtings wat toegepas word.

Kanselier Kurz word allerweë beskou as die toekomstige politieke leier van Europa, en ontleders meen hy beskik oor die vermoë om Oostenryk se aansien in die wêreld te verhoog tot wat dit dekades gelede was.

Kurz was in die vorige regering die minister van buitelandse sake, en het die amp met onderskeiding beklee tot hy as leier van die Volksparty in verlede jaar se verkiesing tot kanselier verkies is.

Foto – Sebastian Kurz en Emmanuel Macron (L)