Gigaba dreig Eskom

Die minister van finansies, Malusi Gigaba, het verklaar dat Tesourie nie meer kan bekostig om Eskom met geldelike reddingsboeie te voorsien nie, en hy en Cyril Ramaphosa het erken dat die situasie by Eskom ‘n nasionale krisis is.

Hy kon egter geen aksieplan aandui hoe die staatsentiteit uit sy krisis van korrupsie en wanbestuur gaan kom nie.

Intussen het die graderingsmaatskappy, Standard & Poor, gewaarsku dat daar ‘n groot moontlikheid bestaan dat Eskom nie hul skuldooreenkomste sal kan nakom nie.

Daar word bereken dat Eskom voor 31 Maart vanjaar R20 miljard gaan benodig om voort te gaan met sy bedrywighede. Die Goldman Sachs groep sê dat Eskom die grootste enkele risiko is vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en het die regering gevra om die totale bestuur van Eskom te vervang.

Die regering se erkenning dat Eskom se geldprobleme Suid-Afrika se ekonomie in duie kan laat stort, is ʼn geval van te min te laat aangesien daar oor jare sienderoë toegelaat is dat Eskom deur wanbestuur en korrupsie tot op die randjie van bankrotskap gedwing is, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, in sy reaksie op Gigaba se aankondiging.

“Noudat die brand Rome feitlik totaal in puin gelê het, hoor die regering eers die alarms lui. Eskom is drooggemelk in die proses van staatskaping en die plundering van die land se bates veral by staatsentiteite.

“Die VF Plus sal versoek dat ʼn kommissie aangestel word om ondersoek in te stel na presies wie verantwoordelik was vir Eskom se agteruitgang, en dat diegene wat by ongerymdhede betrokke was, vervolg moet word,” sê adv. Alberts.