Frankryk kan persvryheid kelder

Die Franse president, Emmanuel Macron, wil wetgewing instel wat dit onwettig sal maak om valse nuus te publiseer gedurende verkiesingstye in Frankryk.

Dit het ’n regeringswoordvoerder, Benjamin Griveaux, die afgelope naweek in Parys bekend gemaak, maar opposisielede het dadelik skerp gereageer op die nuwe wending.

Macron het in sy nuwejaarsboodskap vir joernaliste gesê dat hy een wet op die wetboek wil kry wat die verspreiding van vals inligting in verkiesingstye aan bande sal lê.

Alhoewel president Macron daarmee te kenne gee dat dit gedoen gaan word om die liberale demokrasie in Frankryk te beskerm, meen politieke ontleders dat dit ’n nuwe benadering is om persvryheid in te perk.

Die nasionalistiese leier van Front Nasionaal, Marine Le Pen, sê dit sal interessant wees om te weet of die regering gaan besluit wat is valse inligting en wat is nie.

Macron het gesinspeel dat webtuistes en ander verspreidingspunte wat skuldig bevind mag word, geblokkeer sal word, maar nasionaliste sê dit is ’n metode om die ongewilde linkse president teen die waarheid te beskerm.

Politieke ontleders wys daarop dat Frankryk reeds sedert 1881 oor wetgewing beskik wat valse inligting verbied, en dit behoort voldoende te wees aangesien die wet reeds meer as ’n eeu op die wetboek staan.

Foto – Marine Le Pen