Eiervrug / aubergine / Solanum melongena

 

Die eiervrug is baie bekend aan ons en daar is soveel gebruike van hierdie groentesoort. Dit word nie meer net op die gewone manier gaargemaak nie, maar gerooster en op allerhande ander maniere en dit is heerlik. Eiervrug is in die familie Solnaceae en die genus is Solanum waaraan die tamatie en die aartappel ook behoort.

In Suid Afrika ken ons dit as eiervrug, brinjal of aubergine. In ander lande staan dit meestal bekend as “eggplant”. Dit was voorheen as ‘n wilde spesie beskou, maar het bekend geraak nadat die mense ontdek het dat die vrugte eetbaar en heerlik is.

Eiervrug is ‘n delikate plant en aard veral goed in die tropiese gebiede. Dit is nie baie gehard teen koue en erge hitte nie en verlep maklik indien dit droogte ly. Die stam van hierdie plant is dun en lank en breek maklik af. Indien ons die blomme van naby bekyk, is hulle wit met pers strepe en het vyf geel stuifmeeldrade. Die eiervrug self is pers of wit en het ‘n vlesige tekstuur. Indien dit afgeskil word en nie met sout besprinkel word nie, sal dit bruin verkleur. Meestal word dit nie afgeskil nie, maar in skywe gesny en so in geregte gebruik met skil en al.

Die plant word tussen 40 en 150 cm lank. Die blare van die eiervrugplant is grof en effens gelob en word tussen 10 tot 20 cm lank en 5 tot 10 cm breed. Die eiervrug plante was oorspronklik gekweek in Suid en Oos Asië. Die eerste plant wat opgeteken was, was gevind in Qimin Yaoshu, ‘n ou Chinese boeregemeenskap. Die plante sal oral oor die wêreld groei.

Die vrugte van die plant is voorheen as giftig beskou. Gelukkig is dit eetbaar en glad nie giftig nie, maar die blare en blomme kan toksies wees indien dit in groot hoeveelhede ingeneem word.

Eiervrug, wit of pers, word veral in kerries gebruik. Dit is baie gewild in Indiese kos. Dit word ook in skywe gesny en met olyfolie bestryk en heerlik gerooster in die oond. Daar is ook deesdae groot en klein vruggies, wit en pers beskikbaar. Dit word baie gou gaar en is gewild in alle lande in geregte en op hul eie gaargemaak.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.