Theresa May herwin verlore aansien

Die jongste peilings toon dat die Britse eerste minister, Theresa May, haar verlore aansien herwin het toe sy ’n suksesvolle eerste rondte onderhandelings met die Europese Unie gevoer het.

Premier May se aansien het dramaties verbeter en wêreldleiers het haar geloof vir die uitstekende wyse waarmee sy ’n moeilike saak hanteer het nadat dit gelyk het of die dooiepunt nie uit die weggeruim gaan word nie.

Theresa May het daarin geslaag om die vrese van Europese en Britse werkers te besweer wat oorkruis in ander lande werksaam is en wat bekommerd was oor hulle toekoms.

Sy het ook met goeie voetwerk daarin geslaag om die verwagte 60 miljard euro se rekening af te kry na sowat 40 miljard, en daarmee ’n klomp kiesers se bekommernisse uit die weg geruim.

Aanvanklik is sy kwalik geneem vir die stadige vordering met onderhandelings, maar sy het te midde van groot druk, vasbeslote gebly om die dooiepunt uit die weg te ruim en uiteindelik, bo almal se verwagtinge, die knoop deurgehaak.

Politieke ontleders wys egter daarop dat die moeilikste deel nou op haar wag om ’n billike handelsooreenkoms met die EU te sluit terwyl Groot-Brittanje nie meer lid van die EU sal wees nie.

Die Britse eerste minister, wat in sekere kringe beskryf word as die Tweede Ystervrou, het in die onderhandelings ook daarin geslaag om die ontevredenheid van die Iere uit te knikker.

Foto – Premier Theresa May