Sosialiste gereed vir gesprek met Merkel

Die Sosiale Demokrate Party (SDP) van Martin Schulz het aangekondig dat hy en sy party gereed is om te onderhandel met Bondskanselier Angela Merkel om moontlik ’n koalisieregering saam te stel.

Schulz het egter bygevoeg dat verskeie ander opsies ook op die tafel is wat sy party oorweeg, wat meebring dat die vermoede versterk word dat hy nie gretig is om met die Christen Demokrate Unie van Kanselier Merkel in ’n koalisie te dien nie.

Konserwatiewes in Duitsland meen ’n koalisie met die sosialiste kan verwydering teweegbring tussen Merkel se CDU en die Christen Sosiale Unie (CSU) in Bavaria wat oor ’n lang tyd deel van Merkel se regering is.

Die Sosialiste leier sê hy is egter meer te vinde vir ’n “sagte samewerkende koalisie” as ’n sterk geformuleerde ooreenkoms waarin beide partye gebonde is.

Politieke ontleders sê die grootste probleem vir Angela Merkel is daarin dat sy uit ’n posisie van swakheid moet onderhandel met ’n party wat nie veel erg het aan ’n koalisie nie, maar wat in veel gunstiger omstandighede na die onderhandelingstafel gaan.

Die partye sal ’n verkennende gesprek voer voor Kersfees, om te bepaal wat alles met die opvolgvergaderings ter tafel geneem sal word.

Foto –  Martin Schulz