Sosialis wil Verenigde State van Europa vestig

Die leier van de Duitse Sosialiste Demokrate, (SPD) Martin Schulz, wil hom beywer vir die daarstelling van ’n Verenigde State van Europa.

Hy word glo daarmee aangespoor om met Bondskanselier Angela Merkel saam te werk om ’n ooreenkoms te bereik vir die vorming van ’n koalisieregering.

Hy sê dit is eerstens in nasionale belang dat so ’n ooreenkoms gemaak word en wat sy ideaal kan bevorder om in 2025 ’n Verenigde State van Europa te vestig.

Schulz is tydens die Sosialiste se kongres herkies as leier ten spyte van sy swak vertoning gedurende die September algemene verkiesing toe hy ’n groot deel van sy steun afgestaan het aan kleiner partye.

Gedurende die September verkiesing het sy party die swakste gevaar wat ooit aangeteken is sedert 1949, en het politici hulle verbasing uitgespreek dat hy weer tot leier herkies is.

Politieke ontleders meen die koalisie tussen Angela Merkel se Christen Demokrate Unie (CDU) en die Sosialiste sal ’n teken van wanhoop wees wat deur beide partye openbaar word aangesien die twee partye uiters swak gevaar het in die verkiesing.

Hoe die gesprek sal verloop tussen die twee partye met wyd uiteenlopende beleid standpunte, sal die toekoms wys.

Foto – Martin Schulz