Rooibos / Aspalathus linearis

Rooibos, dit is natuurlik die plante waarvan ons stokkiestee (rooibostee) maak. Rooibostee is so algemeen in ons land bekend en ‘n baie gesonde tee, selfs om ystee van te maak. Rooibostee staan ook bekend as ‘rooi tee’ en word ook so bemark. Dit is ook bekend as naald-, speld-  of koopmanstee. In baie huise is dit bekend as ‘boere tee’.

Rooibos is ’n lid van die Fabaceae familie en dit behoort tot die Asplathus plantgroep. Die rang is Fabales. Die Aspalathus plantgroep bestaan uit meer as 200 spesies wat in die Sederberge van Suid-Afrika groei.

Die blare van die rooibos word geoes, gekneus en in die son drooggemaak. Sodra dit begin droog verander die kleur na die kenmerkende rooi.

Rooibos word gebruik vir die vervaardiging van gesondheidsdrankies en ook skoonheidsprodukte. Dit was altyd deur die antieke San bevolking van die streek gebruik. Dit bevat geen kafeïen nie en bevat Aspalathin, ‘n geurstof wat gevind word in medisinale kruie watt gebruik word om vel- en sirkulasieprobleme mee te behandel. Ons oumas glo dat dit babas kalmeer en goed laat slaap.

Rooibos het ‘n baie hoë vitamien C inhoud en bevat min tannien, wat heelwat minder is as gewone tee. Tannien belemmer die absorpsie van minerale. Rooibostee bevat ook klein hoeveelhede fluoried, kalsium en mangaan. Die Japannese het bevind dat rooibos ‘n oligosakkariede stof bevat en dit dui aan dat hierdie stowwe die immuunstelsel help om virus infeksies af te weer. Rooibos is ook ryk aan antioksidante wat goed is vir ons gesondheid.

Daar is ‘n hele lys van voordele vir die gebruik van rooibostee. Dit is goed vir hooikoors, asma, allergieë, slaaploosheid, spanning, koliek by babas en nog vele ander voordele.

Rooibos plante dra dan ook geel blommetjies sekere tye van die jaar. Dit groei baie goed in die Wes Kaap. Sekere ander lande soos Australië, China en nog gedeeltes in Amerika kon dit nog nie regkry om hierdie plante suksesvol te groei nie.

Tuiniers geniet u tuin tot volgende keer.