Peperwortel / Armoracia Rusticana

Peperwortel is ‘n meerjarige plant in die Brassicaceae familie. Mosterd, wasabi, broccoli en kool behoort ook aan hierdie familie. Die rang is Brassicales. Peperwortel plante is inheems aan Suidoos Europa e Wes Asië en groei veral goed op rivieroewers. Die plante het egter verder deur die wêreld versprei oor Europa, Amerika, Japan en Nieu Seeland deurdat dit aangeplant was as tuinplante en dit is nou volop beskikbaar.

Peperwortel groei tot 1,5 meter hoog en word hoofsaaklik gekweek vir sy groot wit wortel. Die wortel van ‘n heel peperwortel het ‘n swak aroma, maar wanneer dit gerasper is word daar ensieme uit die gebreekte plantselle vrygestel wat sinigrien (‘n glukosinolaat) afbreek na allielisotisianaat (mostertolie), wat die slymvliese van die sinusse en oë erg kan irriteer. Gebruik die gerasperde peperwortel onmiddellik of bewaar dit in asyn om die smaak te behou. Wanneer dit aan lug of hitte blootgestel word, begin dit sy skerpheid verloor, verdonker van kleur en proe onaangenaam bitter.

Gerasperde peperwortel word ook by botter ingemeng om ‘n smeer vir allerhande broodjies en geregte te wees. Volgens bronne werk dit beter as mostert teen slegte spysvertering en was ook al gebruik om koors te breek. Die gebruik van peperwortel word ook aanbeveel as terapie teen jig, maar dit moenie in groot hoeveelhede geëet word nie. Dit kan pynlike urienweg veroorsaak.

Die peperwortel plant lyk baie soos ‘n roketplant of self botterslaai en is heldergroen met gekartelde langwerpige blare. Heelwat geregte sluit peperwortel in, maar dit is nie almal wat daarvan hou nie. Voordat peper en mosterd beskikbaar was, was peperwortel die enigste warm speserye wat gebruik was in die Duitse kookkuns. Indien die wortel gedroog word, verloor dit sy smaak. Daar is ook ‘n Japannese peperwortel wat ‘n ligter aroma as die Europese peperwortel het en die wortel is groen en dit proe sterker. Dit verskaf ‘n vars voorkoms aan geregte. Kokke gebruik peperwortel om in kapokaartappels te roer vir ekstra geur. Dit is in die plek gebruik van mosterd. Dit word ook met room gemeng en word bedien as peperwortelroom wat saam met vis en vleis gebruik word.

Wees maar versigtig so met die eet van te veel peperwortel, hoewel dit ‘n bekende krui regdeur die wêreld is. Tuiniers geniet u tuin tot volgende keer