Ocotillo kaktus / Fouquieri splendens

Volgens bronne is hierdie plant nie regtig ‘n kaktus nie, hoewel dit so vertoon. Dit wil herinner aan die nabome wat so oral in die veld groei. Ocotillo staan ook bekend as “coachwhip, candlewood en Jacob’s staff” en word ook as die “woestyn koraal” beskryf. Hierdie plante groei in die woestyn, en is baie bekend in Arizona, Nevada, Mexico en Texas.

Ocotillo is in die familie Fouquieriaceae en die rang is Ericales. Dit maak die mooiste vertoning, waar dit ook al groei. Vir groot gedeeltes van die jaar lyk dit of die plant ‘n rangskikking van lang takke is en meestal lyk dit of dit heeltemal droog is. Sodra dit vaan naderby beskou word vertoon die stamme groen. Sodra dit gereën het, word dit ‘n lus vir die oog. Dan verskyn daar ook klein, ovaalvormige blaartjies wat 2 tot 4 cm groot is,  aan weerskante van die takke. Hierdie klein blaartjies bly aan die takke vir ‘n paar maande.

Individuele stamme word tot 5 cm in diameter en die plant elf kan ‘n hoogte van tot 10 meter bereik. Die plante dra swaar aan die onderkant van die basis waar die takke uitgroei en die takke is swaar. Die takke groei egter regop en hulle verdeel nie.

Ocotillo dra ook bloedrooi blomme na ‘n goeie reënbui. Dit blom in die lente tot laat in die somer. Die trossies blomme groei aan die punte van die lang paalvormige takke en maak die takke nog swaarder sodat die boonste gedeelte met die blomme aan soms bietjie neerbuig.

Plant Ocotillo van stukke takke wat afgesny word en dit kan heel jaar geplant word. Dit sal ook van die saad groei. Daar is nie groot sukses behaal met die verdeel van die plante nie. Plant die afgesnyde takke direk in die grond waar die plant moet groei en plant in volson. Dit is hitte- en droogtebestand. Plant dit in goed dreinerende sanderige grond. Hierdie plante vereis nie ekstra voeding nie en vereis min aandag indien dit eers groei. Moenie te veel water gee nie want dit is geneig om te verrot onder by die basis van die plant. Dit sal tevrede wees met omtrent 20 cm water per jaar.

Tuiniers, daar is darem soveel pragtige kaktusplante te koop en ons kan dit gerus maar aanplant op ‘n moeilike plekkie in die tuin. Dit verg min aandag en min water. Jammer vir die dorings aan al die kaktusplante! Geniet u tuin tot volgende keer.