Nuwe Poolse premier in konflik met EU

Die nuwe eerste minister van Pole, Mateusz Morawiecki, bly steeds in konfrontasie met die Europese Unie en het dit onomwonde gestel dat Pole nie gediend is met die immigrante kwotastelsel nie.

Hy het kort na ’n afspraak met die land se president gesê die volk van Pole is ’n trotse volk, ’n belangrike volk in Europa en sal nie toelaat dat hulle afgepers word nie.

Met die skerp uitspraak het die nuut aangestelde nasionalistiese eerste minister sy standpunt duidelik gemaak om te verseker dat geen misverstande bestaan oor Pole se siening rakende die toelating van onwettige immigrante in Pole nie.

Die eerste minister het die naweek, na sy besoek aan die Poolse president Andrzej Duda, in ’n televisieprogram herhaal dat die Poolse volk ’n trotse, en belangrike volk in Europa is.

Die premier het ook duidelik standpunt ingeneem toe hy gevra is wat sy optrede sal wees as die Europese Unie begin om fondse wat Pole moet kry, begin terughou omdat Pole nie onwettige immigrante wil inneem nie.

Hy het herhaal dat die Poolse regering nie geïntimideer sal word nie, te midde van die Europese Hof se beslissing, en staan by sy besluit dat hy nie onwettige immigrante sal toelaat nie.

Intussen het die Europese Unie besluit om die immigrante kwotastelsel te vervang met ’n meer aanvaarbare stelsel van verspreiding, maar ook dit gaan Pole nie oorreed om die vreemdelinge toe te laat nie.

Die voormalige Minister van Finansies en Ekonomiese Sake, is verlede week deur president Duda beëdig in die amp as eerste minister.

Foto – Premier Mateusz Morawiecki