Motorrubriek – BMW 420i Gran Coupé

BMW is bekend daarvoor dat dit telkemale op die voorgrond is met stilering en swierige lyne. Die BMW 420i Gran Coupé is ‘n duidelike voorbeeld daarvan met die sportiewe lyne. Hierdie reeks is gebaseer op die 3 reeks maar die bakwerk is langer, breër en hurk nader aan die pad oppervlakte.

Die Gran Coupé se oorsprong is vanaf Dingolfing in Duitsland waar die fabriek gesetel is. Dit verteenwoordig ‘n laer middelpunt van 30 mm nader aan die padoppervlakte en die wiel wydte afmetings is aan die voorkant 14 mm en aan die agterkant 22 mm meer. Die suspensie is verstewig en sommige bestuurders kan dit moontlik te stewig vind. Wanneer dit egter op die pad geneem word, is die padgedrag van hoogstaande gehalte en minder bak rol en meer stabiliteit word ervaar.

Die Gran Coupé weeg 45 kg meer a.g.v. die bykomende twee agterdeure en die ekstra gewig bring teweeg dat die 0 tot 100 km versnelling so effe minder is maar die topsnelheid is dieselfde. Die voordele verbonde aan die twee ekstra deure sluit in ‘n agtersitplek leuning wat kan plat vou, meer pakplek en dieper bagasieruimte. Die bagasieruimte is 480 liter maar met die agterste sitplek se leuning platgevou verhoog dit na 1300 liter.  Die laasgenoemde is omdat die dak se skuinste wat minder is, ‘n bydraende faktor is tot ‘n ruimer bagasiebak.

Die neus gedeelte het ook ‘n verandering ondergaan en die luginlate op die sierrooster is vergroot en  die agterligte is verander maar dit kan slegs opgemerk word wanneer die ou en nuwe model voertuie langs mekaar parkeer word en die nodige vergelyking word getref.

In SA is daar vier modelle beskikbaar naamlik die 420i, 420d, 430i en die 440i waarvan die 440i beskikbaar is met slegs die agt spoed sport outomatiese ratkas. Die ander modelle kan met of die outomatiese ratkas of die ses spoed handratkas verkry word.

Van die toerusting wat in die voertuie beskikbaar is sluit in outomatiese aanskakel hoofligte en reënveërs, mikro gefiltreerde lugversorger, spoed beheer met remaksie, LED kol en hoofligte, sleutellose aanskakeling, aanraakskerm, intelligente noodskakeling, op tyd verkeersinligting en nog talle ander handige toerusting. Die standaard RDS radio is gepas en die hoëtrou stereo stelsel bied ses luidsprekers en die insittendes is verseker van radio klanke op sy beste. Die sitplekke is gemaklike en die bestuurder se sitplek het verskeie verstellings en wanneer ‘n mens jou plek ingeneem het, is jy verseker van bykans sitkamer gemak en gerief.

Die werkverrigting is van hoogstaande aard en die 1998 kub. sentimeter, inlyn, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, vier silinder met turbo-aanjaer voorsien 135 kW krag tussen 5000 en 6500 o.p.m. en die wringkrag is 270 Nm tussen 1350 en 4600 o.p.m. Die 0 tot 100 km/u versnelling neem 7,7 sekondes en die topsnelheid is 236 km/u. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 8,1 l/100 km.

Die  vyf speek, allooiwielvellings rond die buite prentjie netjies af en indien u in die mark is vir ‘n nuwe voertuig kan u gerus u naaste BMW handelaar gaan besoek en die motor vir ‘n toetsrit neem.