Italiaanse mafia verkoop koffie

Byna ’n maand na die dood van Italië se berugte Mafiabaas, verskyn sy naam op ’n reeks espresso produkte wat deur sy dogter bemark word.

Die reeks koffie verwante produkte word bemark te midde van die feit dat die gevreesde Mafiabaas verantwoordelik was vir minstens 150 moorde en die verontregting van honderde mense.

Die Mafiabaas, Salvatore ‘Totò’ Riina, is op 17 November oorlede in ’n goed bewaakte hospitaal waar hy geen besoekers kon ontvang nie, en in eensaamheid onder die wakende oog van veiligheidsbeamptes gesterf het.

Die wrede misdadiger is 26 keer veroordeel tot lewenslange gevangenisstraf , en sy dogter het met die verkoop van koffie waarop sy naam verskyn, probeer om daarmee ’n “laaste eer” aan hom te bewys.

Dit is bekend dat die wreedaard verslaaf was aan espresso koffie, maar hy het in die tronk geweier om sy geliefde koffie te drink uit vrees dat sy vyande hom kon vergiftig.