Gaan Bitcoin staande bly?

Die vraag of Bitcoin gaan oorleef, is tans op alle wêreldekonomie se lippe, en die vraag word al wyer gevra hoe lank dit nog gaan duur voor die Bitcoin-ballon bars.

Te midde van die uiteenlopende menings, het Bitcoin die afgelope naweek sy eerste groot vuurdoop gehad op die Chicago Board Options Exchange toe dit verhandel het teen 15 000 Amerikaanse dollar (sowat R210 000).

Op ’n stadium het die verhandeling gestyg tot ’n waarde van 15 940 dollar, maar later teruggesak na 15 250 dollar, en gedurende die tyd het die algemene verhandelings tot algehele stilstand gekom terwyl dit slegs die virtuele eenheid was wat lewendig verhandel is.

Talle ekonome bly steeds waarsku dat mense nie hulle swaarverdiende geld op Bitcoin aankope moet spandeer nie, maar duisende spekulante en waaghalse is steeds besig om die omstrede virtuele betaalmiddel aan te koop.

Meningsvormers sê die verhandeling op een van die Amerikaanse beurse is die eerste tree om die weg te baan vir professionele beleggers om in Bitcoin te handel, want tot hede is die wantroue nog veels te sterk en is die regulering daarvan asook die deursigtigheid ’n bron van kommer.

In die eerste 20 minute nadat die Bitcoin op die beurs geland het, styg dit tot 16 600 dollar, maar het kort daarna ietwat teruggesak.