Franse woedend vir Macron

In Frankryk is ’n ligte opskudding veroorsaak toe dit bekend geword het dat die huidige eerste minister, Edouard Philippe, vermoedelik toegelaat het dat verskeie kabinetsministers ewe skielik miljoenêrs geword het.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het al ’n reputasie dat hy slegs president is vir die welgesteldes van Frankryk, wat die weerstand en woede teen hom laat oplaai.

Macron is intussen herdoop na “die held van die rykes” nadat hy die belasting op groot instansies so verlaag het dat talle kiesers sê hy kon belasting vir die rykes geheel en al afgeskaf het.

Volgens koerantberigte in Frankryk het minstens tien ministers nou miljoenêrs geword, en beskik die minister van werke, Muriel Pénicaud, oor ’n batige saldo van meer as sewe miljoen euro.

Die kiesers sê dit is die teenoorgestelde van wat president Macron die land belowe het tydens die veldtog van die presidentsverkiesing.

Dit blyk ook dat 30 van die 36 kabinetsministers se bates aansienlik vermeerder het, wat talle vrae by kiesers ontlok.

Foto – Die Franse kabinet