Brexit akkoord kos miljarde

Die Britse en Europese onderhandelaars het uiteindelik tot ’n ooreenkoms gekom rakende die finansiële verpligtinge wat die Verenigde Koninkryk se rekening moet wees om die uittrede uit die EU te finaliseer.

Alhoewel ’n vaste bedrag nog nie bepaal is nie, het die twee partye ooreengekom dat dit tussen 45 en 55 miljard euro sal beloop.

Die voorlopige ooreenkoms dui minstens op ’n mate van vordering veral omdat dit die mees gevoelige aangeleentheid is waaroor die twee partye aanvanklik hewig verskil het en uiteindelik ’n dooiepunt bereik is in die onderhandelings.

Aanvanklik het Brussel gedink dat die bedrag tussen 60 en 100 miljard euro sou wees, maar die Britte het vasgeskop en geweier om daarvoor in te stem.

Alhoewel die Europese koerante die besonderhede gepubliseer het, was daar tot hede geen reaksie van Londen of Brussel nie, wat die vermoede laat bestaan dat die gegewens wel korrek is.

’n Woordvoerder van die EU het egter ontken dat daar ’n mate van ooreenkoms getref is, wat waarnemers laat dink dat die EU verdeeld is oor die aangeleentheid.

Foto – Premier Theresa May