Brakvygie / Aptenia cordifolia

Die brakvygie is ‘n grondbedekker en kom algemeen in Suid Afrika voor.  Dit is in die familie Aizoaceae (dit is die vygie familie) en die genus is Aptenia. Aptenia is afgelei van die woord “mesembria” wat “middag” beteken. Dit is inheems en bestaan uit vier spesies.

Hierdie plante staan ook bekend as die rooi brakvygie. Dit is ‘n vetplantjie en vertoon soos net vygies kan. Hierdie plantjies groei baie dig en die stammetjies is nogal sterk. Die blaartjies en stammetjies is dig en met baie fyn haartjies bedek maar die stammetjies is kort en blink. Blaartjies groei teenaan die fyn stammetjies en is heldergroen en ovaalvormig. Die blommetjies is klein en donkerpienk tot rooi van kleur. Hierdie blommetjies lyk soos die vygie en is blink en word 15 mm breed. Brakvygies se blommetjies groei aan die bo puntjies van die kort takkies tussen die blaartjies.

Aptenia cordifolia is immergroen en groei vinnig. Dit word 250 mm hoog. Die stammetjies is soms effens vierkantig en word omtrent 600 mm lank en groei plat op die grond. Dit blink wanneer die son op dit skyn.

Die saad is ‘n kapsule met vier afskortings en elke afskorting bevat een groot swart/bruin saad. Aptenia cordifoli groei in die dele van die land met somerreën en veral langs die kus. Hierdie plantjies vertoon ook baie mooi op die randjie van beddings en ook tussen plaveisel. Dit is droogtebestand en vereis nie te veel water nie. Plant hulle in sanderige grond. Hierdie vygies rank sommer gou ‘n plekkie vol en lyk pragtig tussen klippe in die rotstuin. Dit moet in sonlig geplant word.

Ons kan maar gerus ‘n steggie van hierdie vygies plant, want die helder blommetjies lok skoenlappers en bye na ons tuine. Dit sal ook met saad groei. Brakvygie blaartjies kan ook gebruik word om op wonde te smeer. Sny gereeld die ou lote uit sodat die plantjie nuwe lote maak en die grond verder bedek.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer. Voorspoed vir 2018