Behou die Geloof

Namate die jaar na sy einde snel en mense begin afskaal met die oog op die feestyd, is daar tog ook ‘n onsekerheid te bespeur.

Dit is duidelik dat 2018 nie dieselfde gaan wees as 2017 nie. Dit gaan die begin wees van ‘n nuwe era, wat uiteraard baie onsekerheid bring.

Die jaar word afgesluit met feitlik weekliks een of ander nuwe skandaal wat die lig sien. Die korrupsie in die land skyn geen perke of einde te ken nie. Trouens, die stemme wat korrupsie veroordeel, skyn selfs minder te word, waarskynlik omdat daar nie veel mense meer oor is in die openbare sektor wat nie daaraan gekoppel kan word nie.

Die land slaan nou al weekliks gade hoe die staatshoof die een bloedneus na die ander kry in die howe. Die howe is selfs nou bereid om sover te gaan as om die president van die land voor te skryf oor wat hy mag doen en wat hy nie mag doen nie. Dit is tot ‘n mate ‘n inmenging in die uitvoerende gesag – iets wat die land se grondwet nie noodwendig ondersteun nie.

Enkele weke gelede het ons gesien hoedat Robert Mugabe noord van die Limpopo saggies verwyder is deur die weermag.  In Suid-Afrika kry mens byna die indruk dat Zuma saggies verwyder word deur die regbank. Soos Mugabe tot die einde probeer klou het, doen Zuma dit ook.

Die opmerklike van die hofuitsprake teen Zuma is, dat dit almal swart regters is. Die skuld kan dus vir ‘n verandering nie geplaas word op apartheid, rassisme of witmonopoliekapitaal nie.

Voor die einde van die jaar sal die land weet wie Zuma gaan opvolg. Wie ook al die opvolger gaan wees, gaan dit waarskynlik nie baie verskil maak aan ons volk se situasie nie. Nie een van hulle gaan onbillike swart bevoordeling opskort nie. Nie een van hulle gaan “affirmative action” skrap nie. Nie een van hulle gaan grondhervorming stop nie. Nie een van hulle gaan ons Afrikaanse skole herstel nie.

Al wat dalk kan gebeur dat die agteruitgang vir ons mense onder die een dalk stadiger sal gaan as onder die ander. Die feit bly dat wie ook al Zuma se plek oorneem, gebind is aan die politiek van die ANC, wat gedryf word deur die Freedom Charter en die Nasionaal Demokratiese Revolusie.

Dit is hierdie onsekerheid wat mense moedeloos maak en selfs radeloos oor wat om te doen met die oog op die toekoms.

Ons is tans ook enkele dae voor Geloftedag.

Ons situasie is in ‘n sekere opsig net soos dié van die Boere voor die Slag van Bloedrivier. Die bedreiging daar was direk en dringend: ‘n nederlaag sou die einde van die Boere in Suid-Afrika gewees het, want ‘n besete Dingaan sou nie opghou het voor hy die laaste blanke uitgewis het nie.

Ons situasie is nie ver van dit af nie. Ons word stelselmatig uitgewis deur plaasmoorde en moorde op ons mense ook in die dorpe en stede. Verder word ons geestelik vernietig, en ons kultuur word van ons weggeneem sover hulle kan. Die eindresultaat is ook uiteindelik algehele uitwissing.

Juis hierdie ooreenkoms moet ons juis moed gee. In die Voortrekkers se tyd was dit byna ondenkbaar dat die wrede Dingaan en sy Zoeloemag vernietig kon word nie. Twee maande gelede het ons nie kon dink aan ‘n Zimbabwe sonder Robert Mugabe nie. Net so kan ons ook nie weet wat die toekoms inhou nie, en sake kan vinnig en radikaal verander.

Met daardie gesindheid en moed behoort ons dan ook ons Gelofte te betaal, want ons volk het deur sy hele geskiedenis heen sy vertroue geplaas op ons Hemelse Vader. Daardie goue draad gaan ook die binding van ons volk vorentoe wees, en sal ook die voortbestaan van ons volk verseker. As God nie wou gehad het dat ons as volk hier ontwikkel en bly nie, sou hy nie gehoor gegee het aan die noodroep van die Boere, soos verwoord in die Gelofte nie.

Kom ons gaan betaal ons Gelofte, daarmee saam bid ons asof werk nie help nie, maar werk ook aan ons volksvryheid asof bid nie help nie. Alles kan verander, mits ons ons geloof behou.