VSA reserwebank kry nuwe baas

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het toe nie soos vermoed is, John Taylor aangestel as nuwe voorsitter van die Federale Reserwebank nie.

Die Wit Huis het Jerome Powell hierdie week verwittig dat hy aangestel is in die plek van die uittredende voorsitter, Janet Yellen.

Die 64-jarige Powell volg Yellen op wat in 2014 deur Barack Obama aangestel is en wie se termyn in Februarie 2018 verstryk.

President Trump het Dinsdag ’n ontmoeting met Powell gehad waartydens hulle oor die moontlikheid van die aanstelling beraadslaag het.

Die aanstelling moet egter nog deur die Amerikaanse Senaat bevestig word, maar dit word algemeen as ’n blote formaliteit beskou.

Yellen is ’n ondersteuner van die Demokrate, wat waarskynlik die belangrikste rede is waarom president Trump haar nie aangestel het vir ’n tweede termyn nie.

Die president moet gedurende die komende maande minstens drie goewerneurs vir die sentrale bank benoem, waarvan een ook as visevoorsitter moet dien.

Foto – Uittredende Yellen en inkomende Powell