Vryheid in die internasionale see

Die gedagte van verskeie miljardêrs om ’n drywende stad in die Stille Oseaan se internasionale waters te bou, is besig om al groter momentum te kry.

Die see-stad gedagte word deur die ryk mense van die wêreld beplan om daarmee die beheer van regerings oor hulle rykdom, finaal te beëindig.

’n Ingewikkelde, maar werkbare model is reeds geskep deur ’n instituut wat die ambisieuse plan wil ontwikkel tot ’n werklike stad wat dryf in die water van die Stille Oseaan.

Die plan dui daarop dat die stad toegerus sal word met huise, kantore, winkels, restaurante en ’n begin word nou gemaak om die droom werklikheid te maak.

Die welgesteldes wil klaarblyklik wegkom van regerings wat met wette beheer uitoefen op hulle aardse goedere, en beoog daarom om ’n onafhanklike see-stad te bou waar geen beheer oor hulle is nie.

Die begin word gemaak in die kuswaters van die Franse Polinesië wat geïdentifiseer is om die eerste werkende “drywende see stad” te word wat in 2020 reeds oor sowat 300 woonhuise sal beskik.

Joe Quirk, die president van die instituut, het sy planne kortliks bekend gemaak aan verslaggewers en gemeld dat die plan slegs die eerste van meer soortgelyke stede sal wees.

Hy sê so ’n drywende stad kan gesien word as die begin van ’n nuwe staat wat onafhanklik en los staan van enige ander regering van die wêreld.

Bouwerk sal vroeg in 2018 begin, en dit sal die eerste tree wees na baie meer wat gaan volg, aldus die president.