Trump in swierige styl ontvang

Die Sjinese het president Donald Trump met egte Sjinese swier verwelkom toe hy Woensdag in die grootste kommunistiese staat van die wêreld aangekom het om met president Xi Jinping te onderhandel.

President Trump se besoek aan Sjina is die eerste van staatshoofde wat die land besoek na die Sjinese Kommunistiese Party se opspraakwekkende kongres wat in Oktober gehou is, waartydens die Sjinese leier sy magte gekonsolideer het.

Die media beskryf die geleentheid as ’n “historiese gebeurtenis waartydens die wêreld se twee magtigste leiers mekaar ontmoet” om gedagtes te wissel oor internasionale aangeleenthede.

Na verwagting sal die krisis rondom Noord-Korea die belangrikste besprekingspunt wees, maar kenners meen die VSA sal ook ligtelik verwys na die kunsmatige eiland wat die kommuniste gebou het in die Sjinese Suidsee gebied wat tans ’n geweldige spanning veroorsaak met lande soos die VSA, Japan en Viëtnam.

Alhoewel daar ’n duidelike verskil is in die mening oor die handel tussen die twee lande, sal die onderwerp weereens aandag kry om ook die spanningslyn te verminder.