Texas kerk word moordsentrum

’n Man het 26 kerkgangers Sondag doodgeskiet in ’n Baptiste Kerk in die Amerikaanse deelstaat Texas, waarvan een slagoffer die 14 jarige seun van die leraar is.

Die Goewerneur van Texas, Greg Abbott, het bevestig dat die tragiese voorval in die laat middag plaasgevind het in ’n klein dorpie die suidelike deel van die staat.

Die voorval by die Eerste Baptiste Kerk in die dorp Sutherland Springs is die ergste wat nog ooit in die geskiedenis van Texas voorgekom het.

Die skieter, geklee in swart, het doodluiters die kerk binnegestap en sonder waarskuwing op die gemeentelede, wat tussen 5 en 72 jaar oud is, losgebrand om uiteindelik 26 te dood.

Polisie het die man as ’n blanke in sy twintigerjare beskryf, en gesê sy identiteit kon nie dadelik vasgestel word nie, maar inwoners het hom as Devin Kelley geken.

Minstens 20 kerkgangers is ernstig gewond, en onbevestigde berigte lui dat ’n inwoner van die dorp die skieter gekonfronteer het, en hom uiteindelik geskiet het.