Staatsgreep kom in Zimbabwe

Die moontlikheid dat ’n staatsgreep teen Robert Mugabe van Zimbabwe uitgevoer gaan word, is nie uitgesluit nie, want die weermag se oorlogtenks is onderweg na die hoofstad Harare.

Tenks en ander militêre voertuie wat op pad is na Harare dui daarop dat die weermag gereedmaak vir ’n geveg wat die omverwerping van Mugabe se gesag kan beteken.

Dit is nog onduidelik wat werklik broei in die land waar die 93-jarige president Mugabe besig is om beheer te verloor en sy vrou Grace poog om beheer oor te neem nadat sy haar man oortuig het om die visepresident af te dank.

Die woordvoerders van die regerende Zanu-PF party het op die sosiale media ontken dat daar sprake is van ’n staatsgreep, en die land se inwoners gevra om normaalweg voort te gaan met hulle lewens.

In teenstelling met die oproep tot kalmte, het generaal Constantine Chivenga gewaarsku dat die weermag in Zimbabwe sal intree indien daar nie ’n einde gemaak word aan die suiweringsproses nie.

Met die opmerking het die generaal klaarblyklik verwys na die “sinnelose” afdanking van die visepresident, Emmerson Mnangagwa, wat beskou word as Mugabe se mees getroue ondersteuner oor baie jare.

Foto – Generaal Constantine Chiwenga