Slowenië herkies president Pahor

Die president van Slowenië is tydens die naweek se algemene verkiesing herkies deur die 1,7 miljoen kiesers van die land.

President Borut Pahor het, met meer as 80% van die stemme getel, die verkiesing teen sy opponent, Marjan Sarec, oortuigend gewen deur 54% van die stemme op hom te verenig.

Die verkiesing is gekenmerk deur weinig belangstelling, en minder as 38% van die 1,7 miljoen kiesers het hulle stem uitgebring, wat die laagste stempersentasie is wat ooit aangeteken is.

Gedurende die eerste rondte van die verkiesing, het die president ’n reuse voorsprong in steun gehad, wat waarskynlik die hoofrede is waarom die belangstelling in die finale rondte getaan het.

Die president se amp is ’n seremoniële pos, en die Republiek Slowenië word regeer deur die eerste minster, Miro Cerar, en sy kabinet.

Die regerende party regeer tans met ’n tweederde meerderheid en sal waarskynlik nie gou uit die kussings gelig word nie.

Slowenië grens aan die suide van Oostenryk, en het eers sy onafhanklikheid in 1991 gekry nadat die land voorheen ’n deelstaat van Tsjeggo-Slowakye was.

Foto – President Borut Pahor