Russiese Nasionaliste bots met polisie

Die polisie in Rusland het vervolging ingestel teen die organiseerders van ’n reuse optog in Moskou waartydens die regeringsmagte in konflik gekom het met die nasionalistiese leiers wat die optog gereël het.

Die konflik met die polisie het ontstaan toe nasionalistiese slagspreuke en baniere met anti-Poetin opskrifte deur die polisie verbied en sommige daarvan gekonfiskeer is.

’n Nasionalistiese leier het aan die media gesê die polisie het sonder waarskuwing in sy huis gestorm en begin soek na sogenaamde “gevaarlike en opruiende dokumente”.

Die polisie was blykbaar nie baie suksesvol in hulle pogings om die optoggangers, wat hoofsaaklik uit jongmense bestaan het, uitmekaar te jaag nie.

Die polisie het woedend gereageer op mense wat baniere gedra het waarop “Poetin is ’n dief” geskryf is in groot vet letters.

Sowat 70 optoggangers, en die organiseerders is deur die polisie in hegtenis geneem maar uiteindelik is verskeie mense vrygelaat omdat geen klag teen hulle ingebring kon word nie.

Die Russiese Nasionale Party skep egter verwarring aangesien baie van die nasionaliste steeds glo dat president Vladimir Poetin in hulle belang optree.