Raaisel verdiep oor vermiste duikboot

Die verdwyning van die Argentynse duikboot het nuwe raaisels na vore gebring toe dit opgevang is dat ’n moontlike ontploffing by die duikboot plaasgevind het.

Die ARA San Juan duikboot wat reeds langer as ’n week gesoek word, se verdwyning bly egter ’n tergende raaisel, en die soektog na die boot het niks opgelewer nie.

Alhoewel die moontlike ontploffing op die stelsel van die vloot geregistreer het, is dit onbekend presies waar dit was, en het die hoop om die manskappe te red, nou vervaag.

Kenners wys daarop dat alhoewel die manskappe opgelei is om die korrekte dinge te doen in geval van ’n noodtoestand in ’n duikboot, is daar ook beperkinge, en word die moontlikheid dat enige persoon aan boord nog lewend gevind kan word, al skraler.

’n Woordvoerder van die vloot wou nie bevestig of ontken dat die klank wat opgevang is en soos ’n ontploffing mag klink, afkomstig is van die duikboot nie.

Die bemanning se grootste probleem is nie die beskikbaarheid van voedsel nie, maar hoeveel suurstof daar oor is om die 44 manskappe aan die lewe te hou.

Veertien skepe en talle vliegtuie het aan die soektog deelgeneem, maar kon geen spoor of teken van die vermiste duikboot vind nie.