Puigdemont word stylvol onthaal

Carles Puigdemont was ’n eregas  in Oostkamp in die gebied van Brugge in Vlaandere, om die lys van kandidate voor te stel waarmee hy na die stembus gaan op 21 Desember.

Die byeenkoms is deur meer as negentig van sy kandidate bygewoon, en die Spaanse verslaggewers het gewemel op die terrein.

Die separatiste leier van Katalonië is op luisterryke en indrukwekkende wyse onthaal en met sy verskyning het die kandidate hom begroet met “President, president, president!”.

Die reuse saal waarin die onthaal was, het gedreun toe die Kataloniese leier sy opwagting maak, waarna ’n doodse stilte gevolg het toe Carles Puigdemont aan die woord kom en sy kandidate en kiesers oproep tot eendragtige, en vreedsame optrede tydens die verkiesingsveldtog.

In sy rede roep hy die Spaanse regering van premier Rajoy op om dialoog te voer met die leiers van die streek.

Meningsopnames toon glo dat die separatiste se kans om weer die verkiesing te wen, gering geskat word, maar die kiesers steur hulle blykbaar nie aan peilings en skattings nie.