Puigdemont: Daar is oplossings

Die afgesette Kataloniese leier, Carles Puigdemont, het in ’n onderhoud gesê daar is ’n oplossing vir die Spaanse krisis sonder om die deelstaat onafhanklikheid te gee.

Waarnemers en politieke ontleders sê die opmerking is strydig met vorige standpunte wat hy gehad het, en politici het hulle verbasing uitgespreek oor die nuwe siening.

Op ’n vraag wat die ander moontlike oplossing kan wees, het Puigdemont sonder huiwering ’n direkte antwoord gegee wat sy toehoorders verbaas het.

“Ek het 30 jaar gewerk aan ’n ander oplossing om Katalonië binne Spanje te veranker”, het hy gesê sonder om ’n duidelike aanduiding te gee van hoe die bestel sal wees.

Puigdemont bevind hom steeds in België sedert hy op 27 Oktober uitgewyk het na Europa om regsadvies in te win.

Saam met vier van sy ministers het hulle na België uitgewyk nadat dit duidelik geword het dat die Republiek van Katalonië na 48 uur tot ’n val gebring is deur die Spaanse regering, wat ook die ander ministers en speaker van die parlement in aanhouding geplaas het.

Die Spaanse eerste minister weier om met Puigdemont te onderhandel en die afgesette Kataloniese leier wil op die basis van Katalonië as onafhanklike staat met Spanje onderhandel, maar daarvan wil Spanje nie hoor nie en verkies om die separatisteleiers te vervolg.

Foto – Carles Puigdemont