Pole kan EU stemreg verbeur

Die regering van Pole kan bekommerd raak noudat die Europese parlement besluit het om ’n ondersoek in te stel na die land se bedrywighede.

Die optrede kan lei tot die Europese Unie se besluit om die land se stemreg in die Europese Parlement op te skort.

Die ondersoek hou verband met die land se juridiese stelsel nadat die konserwatiewe regering besluit het om sekere wetgewing goed te keur wat die regering groter seggenskap gee oor die regstelsel.

In ’n stemming het 438 teen 152 in Strassburg ten gunste van ’n intensiewe ondersoek in Pole gestem aangesien die land die waardestelsel van die EU ondermyn.

’n Woordvoerder van die EU het glo gesê die verskil tussen patriotisme en “slegte nasionalisme” is baie klein en daarom gaan ’n komitee ’n ondersoek doen en ’n omvattende verslag aan die EU voorlê.

Politieke ontleders sê die optrede van die EU beteken dat die soewereiniteit van Pole aangetas sal word om daarmee ’n konserwatiewe regering in onguns te bring omdat daar gevrees word dat die land kan besluit om na Brexit, ook sy lidmaatskap te beëindig.

Die EU het glo verskeie pogings aangewend om met die Poolse regering gesprek te voer, maar die regering het elke uitnodiging daartoe van die hand gewys.