Nou is Spanje bereid tot dialoog

Vir maande het die minderheidsregering van eerste minister Mariano Rajoy van Spanje gesê hy praat nie met die separatiste leiers van Katalonië nie, maar het nou skielik sy deuntjie verander.

Hy is nou bereid om gesprek te voer oor groter outonomie soos wat aan Baskeland se inwoners, die Baske toegestaan is.

Kenners wys daarop dat Spanje dié nuwe standpunt inneem omdat hulle waarskynlik bekommerd is dat die verkiesing van 21 Desember nie so goed gaan verloop as wat hulle gedink het nie.

Spanje is glo nou bereid dat Katalonië sy eie belasting invorderings mag doen en self sy uitgawes daaruit mag finansier.

Die groter beheer oor inkomste en uitgawe deur Katalonië kan moontlik ’n tydelike oplossing wees, maar waarnemers wys daarop dat die separatiste nie onbepaald daarmee tevrede gaan wees nie.

Die kiesers van Katalonië kan egter eis dat die vervolging van hulle leiers eers gestaak moet word alvorens enige gesprek gevoer kan word.