Nkosazana se eie tak verwerp haar

Die eksvrou van Jacob Zuma en aspirant vir die ANC en die land se presidentskap, Nkosazana Dlamini-Zuma, is deur haar eie ANC-tak verwerp.

Die tak in Durban het besluit om Cyril Ramaphosa te ondersteun vir die presidentskap van die ANC, en hulle gaan vir hom stem tydens die ANC se nasionale konferensie volgende maand.

Hulle is van mening dat die kultuur dat die adjunkpresident van die organisasie die opvolger van die leier moet wees, moet voortduur. Alhoewel Dlamini-Zuma wel ‘n voormalige minister was asook voorsitter van die Afrika-Unie, glo hulle dat Ramaphosa homself bewys het in sy pos. In ‘n kwalik bedekte hou na Dlamini-Zuma het haar tak ook gesê dat daar geen vinger na Ramaphosa gewys kan word oor korrupsie en staatskaping nie.