Mugabe steeds onder huisarres

Robert Mugabe, die 93-jarige president van Zimbabwe, is steeds onder huisarres in opdrag van die hoof van die land se weermag.

Mugabe se vrou, Grace Mugabe, skuil volgens onbevestigde berigte in Namibië uit vrees dat sy doodgemaak kan word.

Die mini-staatsgreep is uitgevoer nadat die ou president gehoor gegee het aan die eis van sy magsugtige vrou om die getroue visepresident af te dank sodat sy die nuwe president kan word.

Geen inwoner het gewaag om die weermag teen te staan nadat verskeie tenks en ander militêre voertuie in die hoofstad Harare ontplooi is as afskrikmiddel teen moontlike teenstanders.

Verskeie Afrikaleiers het hulle spyt en teenkanting uitgespreek teen enige moontlike gewelddadige optrede in Zimbabwe, maar kenners meen die staatsgreep kan hoogstens as ’n mini-staatsgreep bestempel word omdat niemand dit wou waag om teen die weermag se optrede te staan nie.

Die weermag het ingegryp toe dit duidelik geword het dat Grace Mugabe se magsug handuit geruk het met die afdanking van die president se mees getroue vriend en ondersteuner.

Na wat berig word is die strate van Harare verlate, en is die weermagvoertuie die enigste wat in die stil strate gesien word terwyl weermag soldate al die belangrikste staatsgeboue en kantore omsingel het.

Lang toue mense het sedert gister by banke gestaan om hulle waardelose geld te onttrek uit vrees dat die banke nie sal kan volhou met uitbetalings nie.

Intussen word daar onderhandelings gevoer om ‘n oorgangsregering in te stel, maar Mugabe weier glo enige samewerking aangesien hy beweer dat hy steeds die wettig verkose president is.