Mugabe het nog nie bedank

President Robert Mugabe het na afloop van samesprekings met die hoofde van die Zimbabwiese weermag, gevra om op TV te verskyn en daar sy besluit aan die volk bekend te maak.

Die generaals en die regerende party, ZANU-PF, het ingestem tot die “billike versoek” en aanvaar die 93-jarige diktator wat vir meer as 37 jaar regeer, sy uittrede as president bekend sal maak.

Dit gebeur toe nie. Instede daarvan swyg Mugabe oor uittrede, maar laat die indruk dat hy onwrikbaar staan in sy amp as president.

Die weermag het egter ’n ultimatum gestel dat Mugabe voor 12 uur Maandagmiddag moet bedank, anders word die proses van afsetting geaktiveer.

Maandagoggend elfuur het Mugabe nog nie bes gegee nie, en nie sy uittrede aanvaar nie.

In ruil vir sy bedanking geniet hy politieke immuniteit om nie vervolg te word vir al sy onmenslike dade van die verlede as president van Zimbabwe nie, maar wat die werklike status is, is tans ’n Babelse verwarring.

Politieke ontleders wys daarop dat Grace Mugabe nou uitgeskakel is en geen kans staan om enige pos te beklee in die regering nie.

Grace is ’n boorling van Suid-Afrika, en het alles probeer om die grondwet gewysig te kry sodat sy die diktator se magsposisie kon oorneem, maar ZANU-PF het haar planne gefnuik en haar geskors uit al die ampte wat sy beklee het.

Intussen het Die Vryburger vertroulik verneem dat Grace Mugabe vervolg gaan word nadat sy haar skuldig gemaak het aan haatspraak.