Motorrubriek – Toyota Yaris Pulse Plus met CVT ratkas.

Die Toyota Yaris is sedert 2013 in SA beskikbaar. Tot onlangs het dit elke jaar dieselfde gelyk maar die heel nuutste weergawe se aansig is verander en dit het ook ‘n naamverandering ondergaan. Die “Pulse Plus” gedeelte is bygevoeg.

Behalwe dat die aansig verander is, is dit beskikbaar met verskillende kragbronne. Daar is weggedoen met die 1300 en die model wat onder die loep geneem gaan word is die een met die 1496 kub. sentimeter, Toyota 2NR-FKE, inlyn, vier silinder, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep kragbron. 82 kW is beskikbaar by 6000 o.p.m. en die wringkrag is 136 Nm by 4400 o.p.m. Volgens ingeligte bronne is die brandstofverbruik 6,5 l/100 km en die brandstofhouer neem 42 liter. Alhoewel dit van akademiese belang is, is dit tog goed om te weet dat die Yaris van 0 tot 100 km/u versnel in 11,2 sekondes en die topsnelheid is 175 km/u.

Die kragbron maak gebruik van ‘n VVT stelsel en ‘n verdere stelsel wat gemonteer is staan bekend as die iE stelsel. In kort kom dit daarop neer dat die inlaat nokas elektries beheer word terwyl die uitlaat nokas meganies beheer word. Wanneer die versnelling reaksie tye van die Pulse vergelyk word met die van die vorige 1300, is die reaksie tyd vinniger maar die topsnelheid is dieselfde. Padgedrag is van ‘n baie hoë standaard en die motor kan geniet word.

Die 1,5 Pulse se krag oorbrenging na die voorwiele geskied of by wyse van ‘n sesspoed handratkas of ‘n sewespoed CVT outomatiese ratkas. Die CVT ratkas se oorskakeling na ‘n hoër of laer rat geskied seepglad. Die Pulse Plus is beskikbaar met slegs die CVT ratkas en in die motor is daar drie meer lugsakke gemonteer, die vensters is bedek met spesiale glassuur materiaal om die klankdigting te verbeter, die hoofligte is verander sodat die lig strale na vore meer gekonsentreerd is, die sierrooster is aangepas, kolligte is op die buitenste hoeke gemonteer en die enjinkap is versterk.

Stabiliteitsbeheer is standaard, 15 duim allooiwielnawe is gepas, elektriesbeheerde vensters en sykant buite spieëls is gepas, ABS remme met BA en EBD bystand, afstandbeheerde sentrale sluitstelsel, veiligheid deurslotte vir kinders is gepas en verskeie skakelaars is op die stuurwiel gemonteer. Die instrumentpaneel huisves die maklik leesbare instrumente wat reg voor die bestuurder gemonteer is.

Die binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en die bagasieruim is gerieflik en kan met die agterste sitplek rugleunings plat gevou, 768 liter neem. Die sitplekke is gerieflik en ‘n gemaklik sit posisie kan met gemak ingeneem word. ‘n Definitiewe plus punt is dat die noodwiel vol grootte  is en dit is onder die mat in die bagasieruim gemonteer.

U kan gerus u naaste Toyota handelaar gaan besoek indien u ‘n nuwe motor wil aanskaf en u gaan vergewis van die Yaris se kwaliteite.