Motorrubriek – Ford Kuga 1,5 EcoBoost Trend FWD AT

Na ‘n onstuimige tyd waardeur die vorige model Ford Kuga beweeg het, kan daar verwag word dat Ford alles in hulle vermoë sal doen om te voorkom dat daar weer sulke probleme opduik. Uit ingeligte bronne word daar verneem dat 93% van die probleemvoertuie herstel is en dat  60% alreeds beskikbaar was vir die tweede fase van herstel.

Die bekendstelling van die nuwe reeks gaan gepaard met verskeie veranderings. Die sierrooster is verander en die hoofligte is meer kompak en so ook die agterligte. Die binne-afwerking is opgeknap en die aanraakskerm met alles wat daarmee gepaard gaan is van die beste op die mark.

‘n Byvoeging tot die toerusting is ‘n elektries beheerde handrem. Behalwe dat dit gerieflik is, laat dit ook meer ruimte beskikbaar vir pakplek. ‘n Ander welkome byvoeging tot die toerusting is ‘n trukamera met afstand bepalende sensors. Leer bekleedsel is standaard en die bestuurder kan deurmiddel van verstellings ‘n gemaklike sit posisie inneem.  Alhoewel dit geringe veranderings is, is dit tog baie welkom.

In die nuwe reeks is daar sewe verskillende modelle waarvan vier voorwiel aandrywing het en drie permanente vierwiel aandrywing is. Die EcoBoost Trend model is toegerus met ‘n sesspoed outomatiese ratkas en die kragbron is ‘n 1,5 liter, vier silinder, turbo aangejaagde enjin en daar is 132 kW beskikbaar terwyl die wringkrag 240 Nm is. Dit stel dit in staat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 10,1 sekondes en volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 6,9 l/100 km.

17 duim allooi wielnawe is aangebring en op die oop pad, soms onder moeilike omstandighede, want sommige paaie is nie van die beste nie, is die padhouvermoë van hoogstaande gehalte.

Agterste passasiers het meer as genoeg beenspasie en daar is ook ‘n handige uit trek rakkie gemonteer waarop jy byvoorbeeld jou eet en drinkgoed kan uitpak. Die gerief van die bestuurder is ook nie agterweë gelaat nie. Die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en is maklik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel. Aan die linkerkant is die toereteller gemonteer en die grootte daarvan en die van die snelheidsmeter aan die regterkant is dieselfde. Op die stuurwiel is daar verskeie skakelaars gemonteer om die toerusting op die instrument paneel te beheer.

Wanneer die bagasiebak se deksel oopgemaak word, maak dit hoog oop sodat daar sonder moeite die bagasie gelaai kan word en is daar gerieflike pakplek reg voor jou. Twee uitlaatpype rond die agterkant van die voertuig netjies af en die vloeiende lyne aan die sykante, rond die voertuig verder af.

Indien daar oorweeg word om ‘n nuwe voertuig aan te skaf, kan u gerus die Kuga op u lys plaas en dit neem vir ‘n toetsrit.