Motor rubriek – Volvo V90 Country T6

 

Wanneer die naam Volvo gehoor word gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na die dae van die B18 luikrug motor.

Volvo was nog altyd bekend vir die hoë bougehalte van sy voertuie en die nuwe T6 is geen uitsondering nie. Die V90 is een van ‘n reeks voertuie in die Volvo stal en hierdie besondere model met sy permanente vierwiel aandrywing is die ideale voertuig vir die snelweg en ook vir die veld.

Die grondvryhoogte is 60 mm hoër en dit is ‘n voertuig wat voldoen aan die vereistes van ons mense wat lief is om die veld en natuur te geniet. Tesame met die bykomende grondvryhoogte, is daar ook groter wiele gepas met ‘n beskermende wielboog afwerking om te verhoed dat die verf en bakwerk beskadig word wanneer daar in die veld of op ruwe terrein gery word.

Al die buite plastiek is normaalweg in swart gekleur maar op versoek sal Volvo ‘n kleur aanpassing doen om die swart plastiek dieselfde kleur te maak as die van die bakwerk en sodoende word ‘n meer elegante atmosfeer geskep.

Binne afwerking is van hoogstaande gehalte en dieselfde indruk word geskep as buite naamlik dat dit duursaam is. ‘n Satelliet navigasiestelsel is standaard en die aanraak skerm is van die mees modern wat op die mark verkrygbaar is. Al die toerusting benodig om ‘n moeite vrye rit te verseker is binne maklike bereikbare afstand. Die skakelaars op die stuurwiel gemonteer verseker dat alle geriewe maklik gebruik kan word. Die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en is duidelik leesbaar deur die boonste helfte van die stuurwiel.

Die sagte leer bedekte sitplekke sorg dat ‘n gerieflike sit posisie ingeneem kan word en die verstellings van die bestuurder se sitplek sorg dat alle toerusting binne maklike bereikbare afstand is. Die rathefboom pas netjies in die handpalm en die verskillende kies funksies op die instrument paneel sorg dat enige rit van hoogstaande gehalte is.

Die bagasiebak se deksel maak hoog oop en daar is baie pakplek vir bagasie wanneer ‘n mens die lang pad aan pak see toe. Met die sitplekke in hulle gewone posisie is daar reeds baie plek beskikbaar maar wanneer die sitplek leunings plat gevou word is daar nog meer pak plek beskikbaar. Wat baie belangrik is, is dat die agterste passasier nie probleme ondervind met beenspasie nie. Daar is meer as genoeg.

‘n Vier silinder, twee liter, inlyn, turbo aangejaagde kragbron met ‘n direkte brandstof inspuiting stelsel word gebruik en vier kleppe per silinder sorg dat daar 235 kW krag beskikbaar is en die maksimum wringkrag is 400 Nm tussen 2200 en 5400 o.p.m. Volgens die vervaardiger is die brandstof verbruik 7,7 l/100 km en dit versnel van 0 tot 100 km/u in 6,77 sekondes met ‘n topsnelheid van 230 km/u. ‘n Agt spoed outomatiese ratkas sorg dat die krag na al vier wiele oorgedra word. Om te verseker dat die motor met veiligheid tot stilstand gebring kan word, is ABS remme met EBD en EBA hulp gepas en kan die voertuig met veiligheid tot stilstand gebring word. Volvo is bekend daarvoor dat hulle voertuie baie veilig is.

Vir die natuur liefhebber is hierdie die ideale voertuig en u kan dit gerus op u inkopielys plaas wanneer u ‘n voertuig wil aanskaf.